Bottomless Coffee Band releases first Afrikaans single EK SAL WAG

Bottomless Coffee Band maak al vir die afgelope paar jaar voortdurend golwe in die Suid-Afrikaanse Musiekbedryf.

Photo credit: Riehan Bakkes

Aanhangers sal verheug wees oor die nuus dat hul tweede vollengte album “Anthelia” in Februarie 2018 bekendgestel word. Die album bestaan uit 11 nuwe liedjies: nege in Engels en twee in Afrikaans. Lourens en Esté Rabé van BCB sê dat die doel was om ‘n diverse album te maak, terwyl die essensie en integriteit van hulle musiek steeds alles saambind.

BCB reik op Dinsdag 6 Februarie hul eerste Afrikaanse lied getiteld “Ek sal wag” uit. Lourens noem dat hulle dit geniet het om ook vir die eerste keer in Afrikaans musiek te maak. “Dit is ons moedertaal en was dus `n natuurlike wending vir ons.” Esté vertel `n bietjie meer oor die ontstaan van “Ek sal wag.”: “Op ons eerste internasionale toer in 2016, het ons besoek afgelê aan Denmark Straat in Londen, die immerbekende musiekwinkel straat. Ek en Lourens het verskillende kapasiteite vir inkopies. Nadat ek een keer ‘n rondte gedoen het van al die winkels het ek besluit om vir hom in ‘n koffie kroegie te gaan wag terwyl hy nog kitare toets en beloer.  Soos ek gaan sit het by die venster toonbank, het ek opgemerk dat daar ‘n dame by ‘n tafeltjie op die sypaadjie sit.  As die venster nie tussen ons was nie, sou ons ongemaklik naby aan mekaar gesit het vir 2 vreemdelinge, maar as gevolg van die venster was ons geskei…Dis daar en dan dat ek die inspirasie gekry het vir hierdie liedjie.  Vensters groei tussen ons en baie dinge in ons lewens (meestal tussen ons en ons naastes) – wat ons skei van mekaar sonder dat ons dit eers agterkom.  Ons is naby aanmekaar, maar ons het ophou kommunikeer.  Hierdie liedjie gaan oor die wag vir hierdie vensters om weer te smelt; om te wag vir die persoon se hart om weer na jou terug te keer. Hierdie liedjie was aanvanklik in Engels waarna ek dit vertaal het na my huistaal; Afrikaans. Die Engelse weergawe gaan ook vrygestel word.” 

Luister hier na “Ek sal Wag:  https://soundcloud.com/bottomless-coffee-band/ek-sal-wag

“Anthelia” word op 23 Februarie by Oude Libertas, Stellenbosch aan Kapenaars bekendgestel en op 19 April by Atterbury Teater in Pretoria.  Die resultaat van die nuwe album is ‘n kombinasie van folk-pop, rock en ook ballades met ‘n klassieke gevoel. Hierdie album sal jou laat dans, glimlag, huil en sing, alles in die liedreis-baadjie van een paartjie se ervaring van die lewe.

BCB het tot op hede `n gemiddeld van 150 vertonings per jaar uitgevoer en het ook al in verskeie lande buite SA opgetree, insluitende Namibië, België, Nederland , Engeland en Skotland. Lourens noem, “Ons beide kom uit konserwatiewe afrikaanse gesinne – jy moet gaan studeer na skool, n goeie werk kry, huis koop en vir jou vrou en kinders kan sorg. Hoewel ons hiermee saamstem, het ons gevoel die lewe kan soveel meer wees. Ons het twee jaar terug beide ons korporatiewe loopbane opsy geskuif om ons droom na te streef om saam musiek te maak. Ons droom was om die wêreld te toer en musiek te gebruik om mense te ontmoet en te inspireer – ons kan nie glo hoe ver dit ons al geneem het nie, dit is steeds die moeite werd om in drome te glo.” 

“Anthelia” was opgeneem by Bellville Studios onder leiding van die legendariese Theo Crous.

Ons kon nie vir beter gevra het nie vertel Esté. “Om te kon werk met Theo Crous was ‘n fenomenale ervaring en ons het daarin geslaag om die album binne 6 maande te voltooi. Hoewel die oorspronklike gevoel van BCB steeds in die nuwe materiaal voorkom, het die liedjies nou ‘n meer volwasse klank waaroor ons baie opgewonde is. Toe ons ons eerste album geskryf het, was ons ‘n jong egpaar, vars uit Universiteit. Nou is dit 3 jaar later en ons het baie geleer oor die bedryf en ook oor onsself as kunstenaars en liedjieskrywers. 

Die naam, “Anthelia”, is geïnspireer deur die titelsnit wat die essensie van die album vasvang. Dit beteken: “Die vermoë om engele te sien”. Die duo verwerk dit in hul eie interpretasie: “Die vermoë om skoonheid in alles en almal rondom ons te sien. 

Bottomless Coffee Band het op 12 Desember 2017 ‘n video van die eerste radiosnit vanaf die album uitgereik. Die snit getiteld ‘Broken System’ kan tans op SA Radio gehoor kan work. Sien die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=n_74KTj1Nbo 

Luister ook na die titelsnit “Anthelia” hier: https://www.youtube.com/watch?v=PO6vwX-z-Qo 

Anthelia liedjies:

  • Ashes to Ashes
  • Tomorrow
  • Perfect Summertime
  • Ek sal wag
  • Arise
  • Lig wat skyn
  • Anthelia
  • Truth in Love
  • Love is real
  • Broken System
  • Ukulele Song

Inligting album bekendstelling: Stellenbosch and Pretoria:

23 Februarie 2018 – Oude Libertas, Stellenbosch

19 April 2018 -Atterbury Teater, Pretoria

Bottomless Coffee Band tree ook op 8 Maart by die Woordfees en op 1 en 2 April by KKNK Oudtshoorn op. Toerdatums word binnekort bekend gemaak.

Spesiale vertoning: Musica Canal Walk, Sat 24 Februarie 2018: 12h00.

Sosiale media:

Facebook: Bottomless Coffee Band

Instagram: @bottomlesscoffeeband

Twitter: @bottomlescoffee

YouTube: Bottomless Coffee Band

Website: www.bottomlesscoffeeband.com

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →