Daar is by vanjaar se Suidoosterfees musiekvermaak vir ieder en elk se smaak. Die 15de Suidoosterfees – met die tema Fantastiese 15 – vind vanaf 26 April tot 1 Mei by Artscape plaas.

Een van die musiek-hoogtepunte by Suidoosterfees 2018 is Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe in Karoo Swing innie Kaap. Ikoniese Afrikaanse musiek word deur hierdie kunstenaars opgetof in dié produksie. Hierdie nostalgiese reis is vir elkeen wat lus voel om te jol. Drie van Suid-Afrika se beste musikante deel hul liefde vir “big band swing” op die verhoog.
Daar is ook vanjaar ’n bekende operette vir teatergangers wat aanklank vind by klassieke musiek. Die Fledermaus vertel die verhaal van Dr. Falke wat drastiese stappe neem om wraak te neem op sy vriend, Gabriel von Eisenstein. Hierdie geliefde operette vertel ’n storie van ware liefde, vriendskap en toewyding. Johannes Slabbert is die dirigent.
Die produksie Black Velvet: Koffer in Berlyn speel af in ’n hotelkamer in Berlyn waar ’n Suid-Afrikaanse vrou op ’n vreemde tas afkom. Wat het haar daar gebring? Vat dit die eensaamheid van ’n hotelkamer in ’n Berlynse winter om uiteindelik haar storie te deel? Of is daar geen paspoort vir die plek waar sy uiteindelik vrede sal vind nie? Sy vertel haar musiekverhaal deur opera en liedere, en die sielroerende klanke van Marlene Dietrich. Jacobi de Villiers en Danie Theron vorm deel van hierdie teaterstuk.
Nataniël maak vanjaar sy debuut by die Suidoosterfees. Hy deel die verhoog met agt formidabele musikante, ’n jazz-kwartet en ʼn strykkwartet. Hy voer werke van Bach, Faure en Ramirez op. Teatergangers kan uiteraard ook uitsien na van sy eie komposisies, begelei deur sy pianis, Charl du Plessis.
Valentynsdag-promosie: Vier Valentynsdag met hierdie fantastiese kaartjie-aanbod. Ervaar van Suid-Afrika se mees bekende kunstenaars in die Artscape Operahuis by vanjaar se Suidoosterfees in produksies soos Classic Nataniël, Kaapse Khoi Jazz II met die Jazz-maestro, Camillo Lombard of selfs Karoo Swing innie Kaap met Emo Adams, Bobby van Jaarsveld en Katlego Maboe. Hierdie produksies is vir slegs R100 ’n kaartjie by Computicket beskikbaar.
Bly op hoogte van die jongste Suidoosterfees-nuus op Facebook (@Suidoosterfees), Twitter (@Suidoosterfees), Instagram (@suidoosterfees2018) en besoek www.suidoosterfees.co.za.