Die Keldery het reeds 2018 op ’n hoë noot afgeskop met Manie Jackson wat op 1 Februarie ’n volgepakte restaurant vermaak het en die jaar van funksies by die restaurant raak net beter en meer opwindend.
Die Keldery is een van die restaurante in die Matzikama-streek wat nie hul besoekers teleurstel nie en jy kan verseker wees van die beste diens tydens jou besoek aan Die Keldery.
Indien jy nog geen planne het vir Vrydag, 27 April nie moet jy beslis die volgende geleentheid in jou dagboek aanteken. Op Vrydag, 27 April, kan musiekliefhebbers uitsien na Elvis Blue, Suid-Afrikaanse musikant en liedjieskrywer wat ’n nasionale sensasie geword het nadat hy seisoen 6 van Idols Suid-Afrika gewen het, wat Die Keldery besoek.
“Ons sien uit daarna om Elvis Blue hier by ons te hê. Dit gaan beslis ’n aand wees wat almal gaan onthou. Jy wil nie uitmis nie, so maak seker dat jy nou al jou tafel bespreek,” sê Adri Coetzee, restaurant- en funksiekoördineerder.
Verrigtinge skop om 19:00 af en tydens die verrigtinge kan jy ook uitsien na ’n heerlike bord kos wat bedien gaan word. Besprekings vir die geleentheid is noodsaaklik, so maak seker dat jy vooraf jou tafel bespreek. Kaartjies beloop R170 per persoon en is beskikbaar by Die Keldery. Dit is een van daardie geleenthede wat jy nie mag misloop nie!
“Altyd wonderlike diens en heerlike kos daar. Atmosfeer ook altyd vir my so lekker,” skryf Dalene Engelbrecht op Die Keldery se Facebook-blad.
Die Keldery is nie net oop vir spesiale aanbiedinge en funksies nie, maar is ook elke dag oop vir smullekker geregte. Die Keldery is daagliks van 09:00 tot 17:00 oop. Die restaurant spog met ’n spyskaart wat bestaan uit heerlike, opgekikkerde tradisionele resepte. Jy wil beslis nie hierdie eetervaring misloop nie. Besoekers kan uitsien na ’n egte en unieke ervaring tydens hul besoek aan Die Keldery. Luuksheid en ruimte laat besoekers ook toe om Die Keldery se kos en wyn stylvol te geniet, met ’n proelokaal waar ’n verskeidenheid van die area se wyne op die proef gestel kan word, asook ’n eetlokaal wat uitkyk oor pragtige wingerde en die Maskam-bergreeks.
“Baie dankie aan die hele span daar by Die Keldery vir puik diens. Dankie ook vir die puik lekker kos. Dit was heerlik. Sal beslis vir die mense verwys na julle plek toe,” skryf Ben Marais op Die Keldery se Facebook-blad.
Vir enige navrae of om meer uit te vind oor Elvis Blue se optrede of enige spesiale geleentheid, skakel gerus 027 213 3699 of stuur ’n e-pos na diekeldery@namaquawines.com. Besoek ook Die Keldery se Facebook-blad by www.facebook.com/diekelderyrestaurant/, volg Die Keldery op Instagram by @diekeldery of op Twitter by @DieKeldery. Jy kan ook Die Keldery se webtuiste besoek by diekeldery.com/