Is jy op soek na ’n unieke wegbreeknaweek vir jou en jou geliefde? Wil jy graag die pragskoon van die natuur beleef en onvergeetlike herinneringe met daardie spesiale persoon in jou lewe maak?
Dalk benodig julle ’n romantiese naweek weg van alles en almal, net julle tweetjies? Indien die antwoord “Ja!” is op enige van hierdie vrae, is Willemsrivier beslis die antwoord!
Vir jare lank geniet verskeie paartjies hierdie spesiale plaasatmosfeer wat net gevind kan word op Willemsrivier. Hierdie gasteplaas is geleë net duskant Nieuwoudtville in die Noord-Kaap, sowat 360 km van Kaapstad en is sowaar die perfekte bestemming as jy van die gejaag van die stad wil ontsnap. Met die heerlike vars lug, die koeltebome wat saggies met die wind dans, die voëltjies se getjirp op die agtergrond en die lieflike privaatheid wat Willemsrivier bied, sal dit vir enige paartjie soos ’n tweede wittebrood voel!
Willemsrivier het die perfekte liefdesnessie vir ’n romantiese ervaring, ’n huisie genaamd die Joodsewinkel. Hierdie huisie is getooi in ’n rooi kleurskema met ’n romantiese koperkatel en dit is ook bekend op die plaas as die “heuningmaan”-huisie.
Joodsewinkel het ’n gerieflike buite-braai, waar geliefdes hulself met ’n heerlike vuurtjie of ’n braai kan bederf terwyl hulle van al hul sorge vergeet en mekaar se geselskap ten volle kan waardeer. Willemsrivier beskik oor meer as 30 kamers in karaktervolle huisies spesiaal vir daardie rustigheid en gemak wat jy verdien. Elke huisie vertel ’n ander storie en jy sal jou verkyk aan al die unieke karaktereienskappe van die dekor.
Geniet ’n lekker koppie koffie met jou geliefde aan jou sy terwyl julle rustig onder die afdak op die stoep sit en die vars oggendlug inasem. Ná middagete kan julle dalk bietjie gaan wandel en die pragtige natuurskoon of plaasaktiwiteite geniet. Daar is heelwat romantiese hoekies agter die fontein, tussen die klippe en koel waterplasse. Julle sal voel soos twee jong verliefdes op ’n avontuur met al die interessante plekke om te verken!
Voor die son weer plek maak vir die maan, kan julle salig op ’n kombers lê en die ongelooflike sonsondergange by Willemsrivier ervaar. Indien julle ook ’n avontuurlustige streek het, is daar heelwat buitelugaktiwiteite soos 4X4-roetes, beide maklik en moeiliker roetes volgens elkeen se vermoëns. Daar is unieke plantegroei en verskillende grondsoorte, met die grootste verskeidenheid van inheemse bolgewasse in die wêreld om te verken, opgeknapte historiese geboue om te bewonder, stap-, en seisoenale blomroetes wat ’n lieflike agtergrond vir foto’s bied, sowel as die sandklip-ruïnes by Ouplaas wat besoek kan word. Die blommeseisoen is in Augustus en September met bolgewasse wat blom in Oktober.
Willemsrivier is ideaal vir alle romantiese geleenthede – hetsy dit ’n wittebrood, ’n spesiale naweek vir jul huweliksherdenking of net vir ’n bederfie is – hier sal julle daardie vonk weer laat opvlam!
Vir meer besonderhede oor Willemsrivier, gaan na hul webtuiste by willemsrivier.com of besoek hul Facebook-blad (@willemsrivier), Twitter of Instagram vir ’n romantiese belewenis! Om meer uit te vind oor hierdie spesiale plaas, kan Erika Kotze gekontak word by 083 450 5939 of per e-pos by erikakotze@mweb.co.za