Daar is by vanjaar se Suidoosterfees teatervermaak vir ieder en elk se smaak. Die 15de Suidoosterfees – met die tema Fantastiese 15 – vind van 26 April tot 1 Mei by Artscape plaas.
Evita Bezuidenhout is vanjaar te sien in die produksie, Tannie Evita Praat Kaktus. Dit is die naam van haar staatsrede wat al vir jare by Evita se Perron in Darling op ’n Sondag opgevoer word. Hierdie staatsrede is elke keer anders. Tannie Evita kyk na die politiek van die oomblik, die vrese van vandag, die spoke van gister en die tsunamis van die toekoms van 1652 tot 2018: die liefde en leed, die soet en suur, altyd met haar tong in jou kies en die belaglikheid van ons politiek in jou glimlag.
Suidoosterfees spog vanjaar ook met die produksie, Rokkie. Dit is die verhaal van ’n 50-jarige transgender-persoon van die Kaapse Vlaktes. Sy deel met ons van haar mees intieme herinneringe, haar ouers, haar ma se kêrel, die liefde van haar lewe, haar eerste beauty pageant, tyd op die straat en haar soeke na identiteit. Rokkie is ’n hartseer storie, vol hoop. Ongeag hoe hartseer die lewe kan wees, is daar altyd ’n silwer rand om die donker wolkie. Charlton George vertolk die rol.
Die produksie Black Velvet: Koffer in Berlyn speel af in ’n hotelkamer in Berlyn waar ’n Suid-Afrikaanse vrou op ’n vreemde tas afkom. Wat het haar daar gebring? Vat dit die eensaamheid van ’n hotelkamer in ’n Berlynse winter om uiteindelik haar storie te deel? Of is daar geen paspoort vir die plek waar sy uiteindelik vrede sal vind nie? Sy vertel haar musiekverhaal deur opera en liedere en die sielroerende klanke van Marlene Dietrich. Jacobi de Villiers en Danie Theron vorm deel van hierdie teaterstuk.
In die tweemanvertoning, Stef en Koos: Suidoos, sien ons weer twee musieklegendes saam op een verhoog. Vir Koos Kombuis is Kaapstad ’n Moederstad in die ware sin van die woord. Hy is hier gebore en put jare reeds inspirasie uit Kaapstad. Stef Bos bevind hom deesdae in die hartjie van Kaapstad waar hy reeds ’n geruime tyd woon en werk. Kom kyk met watter klanke en kwinkslae hierdie twee sangers van die Suid-Afrikaanse musiekwêreld vorendag kom by die Suidoosterfees van 2018!
Die tweede laaste rondte van die Suidoosterfees se jaarlikse Talentsoektog vind op 10 Maart by die V&A Waterfront se amfiteater om 12:00 plaas. Die beoordelaars is Janel Speelman, Desiré Gardner en Paulene Malefane in. Francois Abrahams is die seremoniemeester van die geleentheid. Persone wat wil kom kyk, kan uitsien na ’n verskeidenheid talent wat die mense van die Wes-Kaap bied.
Bly op hoogte van die jongste Suidoosterfees-nuus op Facebook (@Suidoosterfees), Twitter (@Suidoosterfees), Instagram (@suidoosterfees2018) en besoek www.suidoosterfees.co.za.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Lyndsay Cader (Lyndsay.Cader@media24.com / 021 408 3560 / 084 282 2040).