Die skouspelagtige Classics is op 9 Junie terug in Pretoria en musiek in al sy glorie word gevier – alles van Bon Jovi tot Andrew Lloyd Webber, van Cyndi Lauper tot Evanescence wat deur top Suid-Afrikaanse kunstenaars én internasionale sangers vertolk sal word.
Musiek van Queen, Ed Sheeran, Sir Elton John en ABBA is maar net van die nommers wat op jou wag. Opgevoer met ’n volle simfonie-orkes en natuurlik Suid-Afrika se beste stemme.
“Classics 2018 gaan ’n heel nuwe betekenis aan die term extravaganza gee. Ons bring hulde aan van die grootste musiek-ikone en doen selfs uittreksels uit die legendariese The Lion King en die trefferfilm The Greatest Showman wat tans op almal se lippe is,” vertel Barry Pretorius, kreatiewe regisseur van Classics.
Nóg goeie nuus is dat die geliefde engelkind Amira van Nederland en die fantastiese duo Touch of Class weer die verhoog sal deel met ons geliefde en talentvolle Corlea en Jannie Moolman vir vele hoendervleis-oomblikke wat die skare sal laat glimlag, die trane sal laat loop en harte warm sal maak.
Ook op die verhoog is die Amerikaanse sanger Joseph Clark, bekend vir sy uitmuntende vertolkings van Freddie Mercury (Queen at the Opera), die gewilde Tarryn Lamb (van die sanggroep Blackbyrd), asook die beeldskone Monique Steyn.
Volgens Pretorius is daar vele hoogtepunte wat op gehore wag. “Daar is nommers in die produksie wat gaan sorg dat gehore se asems behoorlik weggeslaan word. Vanjaar se Classics is ’n produksie van wêreldstandaard en die nuwe Sun Arena met sy moderne geriewe dra hiertoe by,” sê hy.
Die konsert lok vir die afgelope twee jaar musiekliefhebbers vanuit alle hoeke van die land en is selfs gewild in die buiteland, met meer as 17 miljoen trefslae op YouTube van Amira en Patrizio Buanne se weergawe van O Sole Mio asook briewe vanuit die Verenigde Koningkryk, VSA en Kanada wat die konsert met lof besing.
Dié produksie vind plaas op Saterdag 9 Junie. Dit het ’n nuwe tuiste en sal vir die eerste keer by die nuwe Menlyn Maine, Sun Arena @Time Square gehou word. Gaan loer op Facebook (@AfrikaansisGroot), Twitter (@AfrIsGroot) en Instagram (@afrisgroot) om deel te neem en op hoogte te bly met al die nuus.
Kaartjies open op 15 Maart om 10:00 en is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000. Jy kan ook aanlyn bespreek by online.computicket.com.