Gebruik jou demokratiese reg van stem om ’n verskil te maak

Die skoolbeheerliggaamverkiesing is van toepassing op elke ouer, familielid, organisasie en alle ander aandeelhouers.

Die maand van Maart het slegs ’n paar dae oor en almal sien bitter baie uit na die Paasnaweek. Voordat ons almal die langnaweek kan geniet, is daar uiters belangrike sake wat eers afgehandel moet word. Die saak waarna verwys word is die skoolbeheerliggaamverkiesing (SBL-verkiesing) wat reeds die hele maand aan die gang is en op 31 Maart sluit. Elke stem is uiters belangrik en as jy nog nie jou stem laat geld het nie, moet jy asseblief so gou as moontlik jouself vergewis van die datum waarop jou skool se SBL-verkiesing plaasvind, indien dit nie reeds plaasgevind het nie.

Die SBL-verkiesings is belangrik aangesien die kandidate wat tydens vandeesmaand se verkiesing bemagtig gaan word, al die belangrike besluite in jou kind se skool gaan maak vir die volgende drie jaar. Die SBL speel egter ’n groot rol in die welstand van ’n skool en kan, met die bemagtiging van die verkeerde kandidate, ’n skool in die grond in dryf. Deur jou stem te laat geld in hierdie verkiesing het jy die mag om te verhoed dat jou kind se akademiese en sosiale skoolomstandighede daal deur te verseker dat die regte kandidate op jou skool se SBL sit. Jou kind maak staat op jou.

“As jy nog nie by jou skool se verkiesing was nie, gaan asb en stem – ons is lief vir ons kinders en ons gaan ’n groot verskil maak in ons skole oor die volgende drie jaar. Hierdie is ’n baie belangrike verkiesing. Ons doen dit omdat ons lief is vir ons skool, ons lief is vir ons kinders en omdat ons lief is vir ons land,” sê dr. Jaco Deacon, adjunk-uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Die Basic Education Law Amendment (BELA) wetsontwerp is ’n regtreekse bedreiging tot elke Suid-Afrikaner se demokratiese reg van stem. Hierdie spesifieke wetsontwerp mik om alle openbare skole van die huidige demokratiese openbare-skolemodel te verander na ’n staatskole-model. Ouers en ander aandeelhouers sal alle mag wat hul in die bestuur van hul kind se skool gehad het, verloor aangesien die staat alle take wat deur ’n skool se SBL behartig word, sal oorneem.

Jou stem is uiters belangrik. Gebruik jou demokratiese reg van stem om ’n verskil te maak deur die BELA-wetsontwerp in sy spore te stop sowel as die regte kandidate by jou kind se skool te bemagtig. “Wees die verandering wat jy wens om in die wêreld te sien.”- Mahatma Gandhi.

Ouers, familielede en organisasies kan betrokke raak deur al die nuus oor die beweging te volg op die webtuistes www.liefvirmyskool.co.za / www.lovemyschool.co.za en www.skoolverkiesings.co.za / www.schoolelections.co.za. Besoek ook die Facebook-blaaie vir beide I Love My School (@LoveMySchoolZA) en School Elections (@SchoolElections). Vir meer inligting, kan u ons gerus gaan volg op ons Instagram (@schoolelections en @ilovemyschoolza) en Twitter (@schoolelections en @ILoveMySchoolZA).

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →