Suid-Afrika se gunsteling saamsing-jol – waar jy jou gunsteling musieksterre in konsert kan sien en uit volle bors kan saamsing, is vanjaar vir die eerste keer in Pretoria en weer in Kaapstad te sien!
Krone 5 sal op Saterdag, 28 en Sondag, 29 Julie by die Sun Arena by Timesquare in Menlyn, en op Saterdag, 4 Augustus by GrandWest in Kaapstad die dak laat bewe met die klanke van immergewilde treffers wat deur van Suid-Afrika se top kunstenaars uitgevoer sal word.
Die kunstenaars by vanjaar se Krone-konserte is Andriëtte Norman, Brendan Peyper, Elandré Schwartz, Elizma Theron, Franja du Plessis, Jo Black, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Liezel Pieters, Manie Jackson, Nadine, Nicholis Louw, Ray Dylan, Refentse, Ricus Nel, Robbie Wessels, Ruan Josh en Snotkop en sal sorg vir ’n sterbelaaide program. Daar sal natuurlik ook, soos altyd, ’n paar verrassings wees!
“Julle móét ’n draai kom maak as dit enigsins moontlik is. Krone 5 gaan dié jaar groter en beter wees as enige ander jaar,” vertel Elizma Theron opgewonde.
Die Krone-konsep is uiters gewild, tog baie eenvoudig – die grootste plaaslike en internasionale
ranglys-treffers van toeka tot nou, die mees gewilde kunstenaars in Suid-Afrika en ’n gehoor wat in karaoke-styl oorgehaal is vir ’n lekker saamsing-jol.
“Krone is regtig besig om groot te raak en uit sy nate te bars. Dit is vanselfsprekend omdat julle ons so goed ondersteun,” vertel Nicholis Louw, een van die Krone-kunstenaars.
Al die treffers word saamgestring in energiebelaaide, slimverwerkte keurspelle met woorde wat op die grootskerms vertoon word sodat die gehoor en aanhangers kliphard kan saamsing – ’n ideale geleentheid vir enigiemand – van toekomstige top kunstenaars tot diegene wat liefs hulself by stort-‘concertos’ moet bepaal, om lekker saam te sing totdat hul stemme nie meer kan nie!
Kaartjies vir die Moewiese Saamsing Jol is nou beskikbaar by iTickets.co.za.
Hou Krone Fans se sosiale media dop vir al die nuutste inligting en gebeure op Facebook (KroneFans), Twitter (kronefans) en Instagram (kronefans).