Krone is die GROOTSTE saamsing vertoning in Suid Afrika en vanjaar, met meer as 20 top kunstenaars en duisende entoesiastiese musiekliefhebbers, gaan die dakke gelig word van die Sun Arena by Timesquare in Menlyn op 28 en 29 Julie, en weer op 4 Augustus by die Grand West se Grand Arena in Kaapstad soos die treffers van ons tyd bekroon word!
Die kunstenaars by vanjaar se Krone-konserte is Andriëtte Norman, Brendan Peyper, Elandré Schwartz, Elizma Theron, Franja du Plessis, Jo Black, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Liezel Pieters, Manie Jackson, Nádine, Nicholis Louw, Ray Dylan, Refentse, Ricus Nel, Robbie Wessels, Ruan Josh en Snotkop en sal sorg vir ’n sterbelaaide program. Daar sal natuurlik ook, soos altyd, ’n paar verrassings wees!
“Maak seker jy kry nou jou kaartjies by iTickets, Ek dink dit gaan ’n aand wees om te onthou,” vertel Jo Black opgewonde.
Almal ken die treffers op Brendan Peyper se album Hy Loop Oop, maar daar is pas ’n eksklusiewe uitgawe van die “Hy Loop Oop”-album vrygestel met nuwe treffers soos “Klim Jou Everest” en “We Got Forever” wat die album nog meer indrukwekkend maak. Hy het ook onlangs nuwe musiekvideos vir beide die nuwe snitte, “Klim Jou Everest”, en “We Got Forever” vrygestel wat reeds die ranglyste klim. Die Krone-kunstenaar oefen hard om homself reg en fiks te hou vir Krone 5.
By Krone word al die treffers saamgestring in energiebelaaide en slimverwerkte keurspelle met woorde wat op grootskerms vertoon word sodat die gehoor en aanhangers kliphard kan saamsing. Dis die ideale geleentheid vir enigiemand – van toekomstige top kunstenaars tot diegene wat liefs hulself by stort-‘concertos’ moet bepaal, om lekker saam te sing totdat hul stemme nie meer kan nie!
Die beeldskone Elizma Theron het pas haar splinternuwe album, “Hierdie Hart Brand Liefde” uitgereik, met musiek wat enige dame laat goed voel. Sy het ’n hele paar video’s van haar nuwe liedjies op haar Facebook-blad gedeel en het reeds twee musiekvideo’s bekend gestel. Hierdie fantastiese Krone-kunstenaar is aan die gang en is besig om haarself reg te maak vir die MoewieseSaamSingJol. ’n Paar van haar nuwe treffers word dalk by Krone 5 gehoor. Haar nuwe album is nou landwyd beskikbaar.
“Dié jaar is dit Krone 5, en ek is baie trots om aan kondig dat ek ook daar is. Hou ook ons Krone Fans dop op sosiale media vir lekker nuus en kompetisies en allerlei dinge. Ek sien baie uit om julle daar te sien,” laat hoor Ricus Nel van hom.
Kaartjies vir die Moewiese Saamsing Jol is nou beskikbaar by iTickets.co.za.
Hou Krone Fans se sosiale media dop vir al die nuutste inligting en gebeure op Facebook (KroneFans), Twitter (kronefans) en Instagram (kronefans).