Dit is geen geheim dat die skoolbeheerliggaamverkiesings (SBL-verkiesings) wat in Maart plaasgevind het, ’n groot sukses by talle skole regoor Suid-Afrika was nie.
Hierdie driejaarlikse verkiesing het dit ten doel om die beheerliggaam van elke openbare skool op ‘n demokratiese wyse te kies.
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), is ’n nasionale verteenwoordigende organisasie vir skoolbeheerliggame en is daartoe verbind om lede van skoolbeheerliggame op te lei en te ondersteun, om uiteindelik hoë onderwysstandaarde in elke openbare skool te verseker. FEDSAS is ook ’n erkende nasionale meningsvormer met betrekking tot die beheer en bestuur in skole.
FEDSAS is tans besig om opleiding vir nuutverkose SBL-lede aan te bied, ten einde te verseker dat elke skool so doeltreffend moontlik bestuur word. Om ’n skool effektief te bestuur en na nuwe hoogtes te lei, moet SBL-lede op hoogte wees met die bepaalde prosesse en wetgewing rondom onderwys en die nodige kennis verkry om die vertroue wat in hulle geplaas is, gestand te doen. Die opleiding wat FEDSAS aanbied is daarop gemik om elke SBL-lid te bemagtig deur hul toe te rus met die nodige kennis, sodat onderwys in Suid-Afrika gesond kan wees en elke kind toegang tot kwaliteit onderrig kan hê.
Die opleiding deur FEDSAS aangebied, is sover baie suksesvol met meer deelnemers as die vorige rondte. Daar het tot op hede bykans 8500 individue die opleiding landwyd bygewoon. Die belangstelling wat daar in die opleiding gevind word is oorweldigend.
“Dit is te verwagte dat SBL-lede van FEDSAS-lidskole die opleiding sal bywoon, maar ’n groot aantal skoolbeheerliggame wat nog nie lid is van FEDSAS nie, het op die uitnodiging gereageer en ook die opleiding bygewoon. En dan is daar ook heelwat onderwysamptenare wat sessies bywoon.” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.
Hierdie opleiding word nie beperk nie. FEDSAS nooi enige skoolbeheerliggaam om die opleiding by te woon, of hulle nou lid van FEDSAS is al dan nie. FEDSAS glo dat skoolbestuur ’n spanpoging is en raai almal aan om deel van die oplossing te wees.
Bly op hoogte van die jongste nuus en gebeure op die webtuistes www.liefvirmyskool.co.za, www.lovemyschool.co.za en www.fedsas.org.za. Besoek ook die Facebook-blad I Love My School (@LoveMySchoolZA) of volg ons op Instagram (@ilovemyschoolza) en Twitter (@ILoveMySchoolZA) vir meer inligting.