Ná afloop van die berig in Rapport op 19 Augustus 2018, wil die direksie van Afrikaans is Groot graag net die volgende bevestig:
Dit is aan ons bekend gemaak dat daar inderdaad ’n kuberaanval op Afrikaans is Groot gerig was toe kaartjies op 27 Maart 2018 by Computicket geopen het.
Afrikaans is Groot het vertroulik verneem wie die beweerde kwaadwillige aanvaller/s was, maar kan ongelukkig in hierdie stadium nie enige name bekend maak nie.
Die saak is tans in die hande van die SAP se kommersiële kriminele eenheid en die ondersoek duur voort. Die kriminele klag is volgens ons kennis deur Computicket/Shoprite aanhangend gemaak.
Op publieke aanvraag het Afrikaans is Groot juis van Ticketpro na Computicket geskuif met die hoop dat daar nie weer – soos in die verlede – probleme met kaartjieverkope sou wees nie. Nieteenstaande was daar weer ’n groot tameletjie. Nou is Afrikaans is Groot agter die kap van die byl van wat vermoedelik plaasgevind het.
Arnold Coleske, uitvoerende direkteur van die Afrikaans is Groot-konserte, vertel, “Dit is vir ons ’n groot skok dat so ’n aanval op Afrikaans is Groot geloods sou word, en dit is uiters jammer dat ons getroue ondersteuners hieronder moes lei. Ons verstaan dit was ’n groot frustrasie en het ontsteltenis onder ons aanhangers gebring.”
Duisende konsertgangers is onder die indruk dat die kaartjies uitverkoop is. Daar is wel kaartjies vir die konserte beskikbaar wat op 23, 24, 25, 29, 30 November asook 1 en 2 Desember in Pretoria gaan plaasvind.
Afrikaans is Groot oorweeg dit ook om bykomende vertonings te open sodat alle ongelukkige ondersteuners wat Afrikaans is Groot-kaartjies wil bekom, die konsert kan bywoon.
Afrikaans is Groot wag op die strekking van die ondersoek wat deur die SAP uitgevoer word. Soos wat ons inligting bekom, sal ons dit bekend maak.