Eden Posduif Federasie,onder leiding van Joe Faul, bestaan uit 15 klubs wat strek van Albertinia tot Plettenbergbaai, Kannaland tot George.
Daar is tans 180 lede. Wedvlug seisoen begin die eerste naweek in Junie vanaf Drie Susters (240km) en eindig in die tweede week van Oktober wanneer die duiwe vlieg vanaf Koppies en ‘n afstand van 892km moet aflê. Hierdie langasems word alreeds in vorige jare voorberei en is gewoonlik duiwe wat 2 jaar en ouer is. Na die vliegseisoen word daar weer gebroei en word die duiwe geoefen vir die volgende wedvlug seisoen.
Ons hou ‘n dinee en veiling op die 14de September 2018 om 18:30 om hierdie sport beter bekend te stel . Die volgende wedvlug is die 22ste September vanaf Bloemfontein oor ‘n afstand van 642km. Die wenduif is die duif met die hoogste gemiddelde spoed. Elke duif wat aan die wedvlug deelneem, sal by die dinee ten toongestel word.
Tydens die geleentheid gaan almal die geleentheid kry of te kan bie op die duiwe se prysgeld. Die duif bly die eienaar se eiendom. Die afslaer is die 16 jarige Hertie Lerm van Albertinia, wat die SA Junior Kampioen Afslaer is. Hy is tans die jongste gekwalifiseerde afslaer in die land.
Fadiel Hendriks, SANPO se voorsitter gaan ook ‘n bydrae lewer op die aand en gaan geleentheid gee aan die die publiek om vrae te vra waaroor almal nog ooit gewonder het oor die duiwe en duiwesport.
Die seremoniemeester vir die aand is die immer gewilde Hakkiesdraad. Hy is bekend as ‘n unieke, vermaaklike spreker wat ‘n fyn balans tussen komedie en digkuns handhaaf. Outeniqua Hoërskool se Jazz orkes, die Katz, gaan sorg vir ‘n feestelike, Gatsby atmosfeer wat die voete gaan laat jeuk om ‘n draai op die dansbaan te maak. Die Katz het in 2017 bymekaar gekom onder leiding van die baie bekende jazz musikant, Lynette Pietersen. Hierdie orkes het sedertdien gegroei in statuur wat by verskeie funksies die vermaak voorsien.
Die totale opbrengste van die veiling word in drie dele gedeel tussen Kansa, Eden Posduif Federasie en prysgelde.
Vir meer inligting, kontak Retha Swanepoel by 071 302 1106 of Amelia Thiart by 082 803 0994.