Suid-Afrika is onlangs deur ’n reeks korporatiewe skandale geruk wat aandelepryse van maatskappye soos Steinhoff en EOH dramaties laat daal het. Beleggers wat aandele in beide maatskappye gekoop het in Januarie 2017 sou sowat 98% van hul kapitaal verloor het. Een van die grootste vrae wat die publiek het, is: Hoe het dit gebeur?
Wanneer hierdie twee marktoestande gefynkam word, is dieselfde patrone duidelik. Daar is natuurlik geen algemene reël wat toegepas kan word nie en geen ondersoek sal al die antwoorde onthul nie. Maar om te weet watter gevaartekens om op die uitkyk voor te wees, kan vir beleggers duisende rande spaar.
Wees bewus van die kultus van beroemde uitvoerende bestuurders. Daar is niks meer aantreklik as die storie van grootkoppe van ’n onderneming wat met niks begin het en die korporatiewe leer tot sy hoogste punt geklim het nie. Ongelukkig is die ophef wat rondom hierdie fabels geskep word dikwels nie die volle waarheid van wat in realiteit gebeur het nie. Wees dus waaksaam as ’n maatskappy se profiel afhang van die persona van die persoon wat dit bestuur.
Aggressiewe (dikwels internasionale) uitbreiding is nie altyd ‘n goeie ding nie. Maatskappye wat skielik aggressief oorsee begin uitbrei, gebruik gewoonlik aansienlik baie kapitaal om ’n mark te penetreer waarvan hulle nie veel weet nie.
Baie Suid-Afrikaanse maatskappye wat al so uitgebrei het, het kort voor lank teruggekeer na Suid-Afrika, stert tussen die bene. Dink maar aan Woolworths, Old Mutual en Discovery. Hierdie maatskappye het met hul terugkoms dit duidelik gemaak dat buitelandse markte nie so maklik nuwe gesigte verwelkom nie. As ’n maatskappy dus eendag besluit om sonder veel beplanning helfte van hul kapitaal na ’n nuwe mark te neem, moet beleggers dit oorweeg of hulle daardie risiko wil loop.
Afwesigheid van kontantvloei behoort vir beleggers dadelik af te sit. Swak kontantvloei is een van die grootste tekens dat dinge nie reg is met ’n maatskappy se sake nie. Dit spreek regstreeks tot die manier waarop die maatskappy bestuur word. Dis soos iemand wat ’n goeie werk het, ’n luukse motor bestuur, in ’n groot huis woon, maar nooit geld het om uit te gaan nie.
Wees maar versigtig as jy hoor dat die maatskappy waarin jy wil belê, nie genoeg kontant het om hulle daaglike bedrywighede te befonds nie. As ’n maatskappy van krediet gebruik maak om dit te doen, moet beleggers liewers hul geld elders neem.
Ingewikkelde korporatiewe strukture is onnodig en gevaarlik. Hoe meer kompleks en oorlaai ’n maatskappy se struktuur is, hoe makliker is dit om finansiële misdrywighede te verdoesel. Maatskappye sal dikwels doelbewus ingewikkelde strukture skep met bankrekeninge en magtingings wat van regoor die wêreld verkry moet word voor kontant geskuif kan word om die opsporing van die bronne bykans onmoontlik te maak. Finansiële verslae in sulke strukture is onverstaanbaar moeilik. As beleggers nie die maatskappy se verslae kan verstaan nie, moet hulle liewers wegbly.
Vermy verder die sogenaamde “FOMO”-lokval (fear of missing out). Net omdat al jou vriende en kollegas belê in iets, beteken dit nie noodwendig jy moet dit ook doen nie. Ons het dit vernaam gesien met die opkoms van crypto-geldeenhede soos BitCoin wat die hoogte in geskiet het en ewe skielik amper waardeloos is. Dit is niks meer as ’n borrel wat geskep word nie. Doen jou huiswerk, al belê jou vriende.
Beleggings kan uitdagend wees om te bestuur. Vernaam as nuwe beleggers opsoek is na die regte onderneming om hul geld in te investeer. Daarom is dit sinvol om met die kenners in hierdie gebied te gaan gesels, alvorens beleggers hulle geld oorhandig.
MMR se span onafhanklike adviseurs en makelaars kan enige belegger bystaan in hul soeke na die regte beleggingsopsie. Of die belegger baie of min wil belê, hou van risiko of veilig wil speel, sal hulle kan help om seker te maak dat die belegger se kapitaal veilig is en sy volle potensiaal bereik.
MMR is ’n goedgekeurde finansiële diensverskaffer (FSP 12017) op Vredendal. Die maatskappy bied ’n wye reeks finansiële dienste soos beleggingsopsies, versekering en hulp met die uitneem van huisverbande. Voornemende kliënte kan hul eerste konsultasie met die MMR-span gratis kry deur ’n afspraak via hulle nuwe webtuiste te maak op www.makelaars.co.za.
Volg MMR op Facebook (@MMRFinDienste), Twitter (@DiensteMMR) en Instagram (@MMRFinDienste) om op datum te bly met die nuutste aanbiedings en dienste van hierdie makelaars.