23ste George Oumotorskou 9 – 10 Februarie 2019

Oumotors vanoor die land op pad na George Oumotorskou

George – Die 23ste George Oumotorskou, ondersteun deur Oakhurst Versekeringsmaatskappy, vind op 9 en 10 Februarie 2019 op die terrein van die PW Botha Kollege in Yorkstraat plaas.

Talle voertuie vanoor die hele land is vandeesweek op pad na die Oumotorskou wat vir die 23ste keer deur die Suid-Kaap Oumotorklub aangebied word.

Teen einde Januarie was daar reeds tussen 700 en 800 voertuie, wat almal voor 1975 vervaardig is, geregistreer om deel te neem aan vanjaar se skou. Alle voertuie moet vooraf geregistreer wees om ‘te kan uit stal.

Naas die veteraan-, Noag en klassieke motors, trekkers en motorfietse word daar ook interessantte stilstaande enjins en meer as 5 000 modelmotortjies uitgestal, asook nuwe motors wat deur handelaars bekend gestel word.

Kos en drinkgoed, snuisterye en motortoebehore word te koop aangebied by talle stalletjies op die terrein. SAB sal daar wees met lafenis teen die Februarie-son, en die House of Classic and Sports Cars van Knysna se veiling sal weer sorg vir ‘n hoogtepunt by die skou.

“Sowat 80% van die uitstallers kom van buite George se munisipale grense, en ons wil al die besoekers wat moeite doen om die George Oumotorskou te ondersteun deur uit te stal of dit te besoek, baie welkom heet,” sê Japie Beyers van die reëlingskomitee. “Ons wil ook al ons borge van harte bedank vir hul ondersteuning, want sonder hulle sal dit onmoontlik wees om die Skou aan te bied.”

Motoriste wat op pad is na die George Oumotorskou moet maar geduld aan die dag lê wanneer hulle ‘n klompie voertuie uit toeka se dae teenkom, veral op Vrydag 8 Februarie, wanneer die Veteraantoer vanuit Klaarstroom na George vertrek.

“Ons is baie opgewonde oor die voertuie wat aan die Veteraantoer gaan deelneem,” sê Philip Kuschke, wat dié toer op die vooraand van die George Oumotorskou reël. “Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Veteraantoer het ons twee veteraan-motorfietse wat deelneem, naamlik ‘n 1904 Durkopp en ‘n 1912 Bat. Vir die heel eerste keer gaan daar ook ‘n 1918 Model T Ford-vragmotor deelneem.”

Bespreek vooruit

Toegangskaartjies is aanlyn beskikbaar by Quicket op die Events-blad van die Suid-Kaap Oumotorklub se webtuiste www.scocc.co.za

Toegangsfooie

Saterdag: Volwassenes R60/persoon, Pensionarisse R45/persoon, Skoliere R30/persoon

Sondag: Volwassenes R25/persoon, Pensionarisse R20/persoon, Skoliere R15/persoon

Naweektoegang: Volwassenes R70/persoon, Pensionarisse R50/persoon, Skoliere R35/persoon

Kinders onder 6: Gratis

Hektye

Saterdag 9 Februarie: 07:00 – 18:00

Sondag 10 Februarie: 08:00 – 13:00

Registrasie vir uitstallers het reeds gesluit

Danie Schmidt, Chris van Staden, Klaus Oellrich, Phillip Rosser, Hugo Lodder, Japie Beyers

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →