Ná die astronomiese sukses van die Krone 5-konsertreeks, word dié gewilde konsertreeks vir die sesde keer, met ekstra vertonings, in Kaapstad en Pretoria aangebied. Kaartjieverkope na dié konserte het reeds geopen en aanhangers gaan moet wikkel om te verseker hulle kry kaartjies.
Vanjaar word Theuns Jordaan ook verwelkom en sal hy vir die eerste keer deel wees van die Krone-familie om gehore met sy rasperstem mee te voer.
Die sokkiekoning Kurt Darren is ook weer deel van die Krone-konsertreeks en het vertel dat naas Kersfees, Krone sy gunsteling tyd van die jaar is.
“Al my gunsteling mense en liedjies onder een dak vir ’n lekker saamsing- en saamdans-jol – wat kan dan beter wees?,” het hy gevra.
Die multi platinum-verkoper en een van Suid-Afrika se grootste sterre, Juanita du Plessis, het vertel dat die Krone-gehore altyd vir haar ’n hoogtepunt is.
“Hulle sing so lekker saam en ons wat op die verhoog is, kan hul energie voel. Dit is vir my ’n groot voorreg en lekkerte om saam met my mede-kollegas bekende, ou treffers te kan sing,” het sy gesê.
Saam met Theuns, Kurt en Juanita maak die land se gewilde boeremeisie, Lianie May, en die smeulende Dirk van der Westhuizen, ook vir die eerste keer hul buiging op dié verhoog. Saam met hulle neem van die land se voorste kunstenaars naamlik Brendan Peyper, Snotkop, Refentse, Ricus Nel, Elandré, Elizma Theron, Nicholis Louw,, Manie Jackson, Robbie Wessels en Liezel Pieters ook hul plek op die verhoog in om plaaslike én internasionale ranglys-treffers af te stof en op hul besonderse wyse te vertolk.
Die Krone-konsertreeks roem daarop dat hul een van die grootste makieties is en enig in sy soort is met konsertgangers wat uit volle bors kan saamsing met die liedjies se woorde wat op ’n grootskerm vertoon word. Ongeveer 33 000 konsertgangers woon dié konserte by.
Vanjaar sal daar vir die eerste keer drie konserte in Pretoria aangebied word en twee in Kaapstad – een ekstra in elke stad ná die oorweldigende reaksie van die vorige konsertreeks.
Vir diegene wat uitgemis het op Krone 5, of dit net oor en oor wil herleef, is die Krone 5-CD en -DVD nou landwyd beskikbaar by Musica.
Krone 6 vind op 3 Augustus, om 19:00, en 4 Augustus, om 14:00, in Kaapstad, in die Grand Arena by GrandWest plaas. Op 16 Augustus, om 19:00, 17 Augustus, om 14:00, en 18 Augustus, om 14:00, is Pretoria aan die beurt by die Sun Arena by Time Square. Kaartjiepryse wissel tussen R195, vir ’n staankaartjie teen die verhoog, tot R470 vir sitplekkaartjies. Kaartjies vir vanjaar se Krone is aanlyn beskikbaar by iTickets.
Hou Krone se sosiale media dop vir al die inligting en gebeure op Facebook: https://www.facebook.com/KroneFans/, Twitter: https://twitter.com/KroneFans, of Instagram: https://www.instagram.com/kronefans/