Geskiedenis gaan vanjaar, gedurende Mei-maand, gemaak word wanneer duisende Bonsmara-beeste oor nege provinsies aanlyn op ’n internet-veiling van Beeswinkel.co.za aangebied word.
Dié eerste Bonsmara-speenkalfveiling word op 2 Mei, om 14:00, aangebied. Petrus van Heerden, direkteur van Beeswinkel, het gesê dat hierdie veiling beloof om die grootste Bonsmara-veiling nóg in Suid-Afrika te wees.
“Bonsmara-telers moet nou reeds op die Beeswinkel-platform registreer om hulle aanbod betyds te kan laai,” het hy gewaarsku.
“Bonsmara is die beesras met die meeste geregistreerde diere in Suid-Afrika en is die enigste vleisrasbees met gedokumenteerde kruisras-programme. Dié ras is baie gewild onder voerkrale. Dit is waarom ons vanjaar vir die eerste keer, in oorleg met Bonsmara SA, Nasionale Bonsmaradag op 2 Mei aanbied,” het Van Heerden gesê.
Volgens Louis Steyl, rasadviseur vir Bonsmara SA, speen die meeste van die Bonsmara-boere tussen April en Junie. Volgens Steyl speen die ooste van die land se boere bietjie vroeër en die weste speen bietjie later. Dít is een van die verskeie redes hoekom die begin van Mei geskik is vir hierdie eksklusiewe Bonsmara-veiling.
“Die Bonsmara-ras se top kenmerke sluit sy uitstekende aanpasbaarheid, goeie groei binne en buite ekstreme temperature, top karkasgehalte en goeie resultate in kruisingstelsels, in. As gevolg van die afgelope sestig jaar se streng genetiese seleksie proses, het die ras uitstekende groei getoon – perfek vir die kommersiële teler wat ’n hoë vleis-produserende beesras – wat min onderhoud verg – soek,” het Steyl gesê.
Sodra die internet-veiling om 14:00 die middag van 2 Mei begin, kan jy ’n hele paar dinge verwag. Volgens Melanie Duminy Boshoff, bemarker van Beeswinkel, gaan dit ’n “rooi-veiling” wees.
“Kopers kan verwag dat gehalte Bonsmara-kalwers aangebied sal word – bulle en verse. Boere wat sou belang stel om hul kudde aan te vul, kry met hierdie veiling ook die ideale geleentheid om verskalwers te koop,” het sy verduidelik.
Verkopers wat hul Bonsmara-speenkalwers wil verkoop moet ten minste 2 weke voor die veiling
geregistreer wees op Beeswinkel se webtuiste. Die verkoper neem dan gehalte video’s en fotos van sy speenkalwers en registreer dan sy lot. Hoe vinniger verkopers hul lotte op Beeswinkel laai, hoe gouer kan kopers bewus word van die kalwers wat beskikbaar is.
Dennis Staal, mede-direkteur van Beeswinkel, het gesê dat een van die voordele van Beeswinkel se aanlyn-veiling is dat die verkoper geen onkoste het om sy vee na veilingskrale te vervoer nie.
“Die verkoper moet net ’n paar minute neem, sy beeste afneem en sy lot registreer,” het hy gesê.
Beeswinkel hou jou op hoogte met alle nuutste gebeure en inligting. Besoek gerus www.beeswinkel.co.za en die sosiale media, Facebook (@beeswinkel), Twitter (@beeswinkel1), en Instagram (@beeswinkel). Kontak Petrus van Heerden by 083 231 0528, Dennis Staal by 082 828 1082 of Melanie Duminy Boshoff by 071 491 9000.