‘n Fees van Retro-Klassieke Karre en Moderne Supermotors
Mosselbaai, Tuinroete (Augustus 2024) – Die eerste Santos Beach Auto Extremo vind plaas op Sondag 1 September in Ikoniese Mosselbaai – ‘n viering van beide klassieke en moderne supermotors. Hierdie eksklusiewe motorskou digby een van suidelike Afrika se mooiste strande kan meeding met enige soortgelyke geleentheid ter wêreld, en sal vorentoe jaarliks aangebied word.
Volgens organiseerder Waldo Scribante, eienaar van Scribs BENZeum in nabygeleë George, is De Bakke Karavaanpark ‘n perfekte plek om tydlose klassieke motors ten toon te stel: myle groen grasperke om te parkeer, oorgenoeg skadu, en uiters toeganklik vir die publiek.
“Die wêreld se groot motorskoue het een ding in gemeen en dit is ‘n asemrowende omgewing. Villa D’Este is die voorste klassieke motorskou in Italië en word gehou op die oewers van Lake Como. Pebble Beach in Monterey, Suid-Kalifornië, is ewe verruklik. Voeg daarby die voortreflike paaie en bergpasse op ons drumpel in Mosselbaai en jy’t die bestanddele vir ‘n geleentheid sonder gelyke, met tonne aantrekkingskrag vir motorliefhebbers.”
Die naam ‘Santos Beach Auto Extremo’ is deels afgelei van die Portugese term Automóvel Extremo, verwysende na die geskiedkundige erfenis van die dorp waar die beroemde Portugese ontdekkingsreisiger Bartolomeu Dias in 1488 aangeland het.
“Ons wil die natuurlike sinergie tussen eienaars van ikoniese klassieke en ultra-gesofistikeerde supermotors bevorder. Baie eienaars van moderne supermotors het ‘n diep sin vir erfenis wanneer dit by hul voertuie kom, en ons wil graag hierdie aspek met besoekers deel.”
Die een-dag skou sal oop wees vir die algemene publiek op Sondag 1 September van 10vm tot 4nm. Volwassenes betaal R75 en kinders kry gratis toegang. Geen registrasie word vereis vir eienaars van klassieke of supermotors nie.
Santos Beach Auto Extremo is die finale been van ‘n inwydingstoer gereël deur die Suid-Kaapstreek van die Mercedes-Benz Klub. Die twee-dag toer vat pad op Vrydag 30 Augustus in die Paarl en sluit die Franschhoekpas, Bonnievale en Tradouwpas in.
“Die Sondag se fokus is op klassieke sportmotors van alle vervaardigers,” verduidelik Scribante – wat saam met sy vrou René jare se ervaring het in die organisering van klassieke motor-toere en skoue. Scribante is voorsitter van die Suid-Kaapse Oumotor Klub, organiseerders van die George Oumotor Skou wat jaarliks in Februarie plaasvind.
“Die Suid-Kaap se oumotor-gemeenskap wil al lankal spog met Mosselbaai se natuurprag. Ons het besluit die tyd is nou ryp om hierdie nuwe skou te vestig. Terloops, die datum is ook betekenisvol vir die Mercedes-Benz Klub, want 1 September 2024 is die 27ste herdenking van ons jaarlikse Lente Snoekbraai!”
Hierdie geleentheid is legendaries onder Mercedes-Benz Klub-lede: Mosselbaai is bekend vir die land se beste snoek, en die ontspanne jaarlikse piekniek word gekenmerk deur ‘n unieke atmosfeer.
“Nou deel ons dit alles met die publiek, met lede van die breër klassieke motor-gemeenskap, en met die eienaars van supermotors – wat toenemend die George Skou vereer met hul moderne Ferraris, Porsches, Maseratis, Lamborghinis en ander beroemde handelsmerke.”
Scribante glo dat die entoesiasme vir manjifieke motors, wat met rasse skrede toeneem in die Suid-Kaap, kan lei tot die vestiging van ‘n weeklange motorgeleentheid in die Mosselbaai-omgewing in komende jare.
“Ons het soveel feeste in hierdie streek wat ‘n hele week beslaan: die Walvisfees, die Oesterfees, en so meer. So waarom nie ‘n weeklange Klassieke Motorfees nie?” Hy voeg by dat 150 motors reeds ingeskryf het vir die eerste skou, en bedank Total en Spur wat aanboord is vir wat beloof om ‘n plesierige rit te wees.
“Ons het uitstekende ondersteuning en op 1 September word ons bygestaan deur Rondetafel Suid-Kaap, die NSRI en St Blaize Lions. Daar sal volop kos en drank te koop wees met ‘n SAB biertent byderhand, maar niemand is daar om geld te maak nie. Toegangs- en inskrywingsfooie sal gedeel word met hierdie organisasies sodra basiese kostes gedek is. Elke motor-inskrywer sal ook die geleentheid hê om ‘n skenking te maak.”
Lede van die publiek wat meer wil weet, is welkom om vir Waldo Scribante te kontak by info@santosbeachautoextremo.co.za of vir Alewijn Dippenaar by dyndev@mweb.co.za of Mimi Finestone by mimi@gojipr.co.za.