Sommige liedjies het die vermoë om diep in die harte van luisteraars nes te skop.
Vir die gewilde sanger, liedjieskrywer en radio-omroeper, Francois Boyce, is ASEMROWEND deur die gospelsanger Leon Ferreira een van daardie liedjies.
Daarom het hy besluit om, in samewerking met Grammy-benoemde vervaardiger Neville D en die evangelistiese ensemble Die Lekker Crew, ’n baie besonderse en unieke verwerking van hierdie praglied op te neem ten bate van dié gospelsanger wat tans ’n moedige stryd voer teen aggressiewe prostaatkanker.
“Hierdie liedjie is oorspronklik opgeneem deur Leon en naas “My Pa is die Koning”, is dit een van sy heel mooiste liedjies. Die woorde het my hart geraak en beskryf presies hoe ek self God beleef. Uit ’n musikale oogpunt gaan sit die melodie in jou kop vas en ’n mens kry dit nie uit nie,” vertel Boyce oor hoekom hy juis op hierdie snit besluit het.
Volgens Francois, wat met Leon se musiek in die huis grootgeword het, het hulle vriende geword nadat hy en Neville D met hom ’n onderhoud gevoer het op hulle radioprogram op Radio Tygerberg 104 FM. ASEMROWEND is gedurende hierdie onderhoud gespeel en Francois en Neville D het in daardie oomblik albei besef dat hulle iets met hierdie liedjie wou doen.
Na Leon se onlangse kankerdiagnose, het hulle toe besluit om saam met Lekker Crew ’n splinternuwe verwerking daarvan op te neem, by Digital Forest se ateljee in Constantia, om te help fondse insamel vir sy mediese behandeling as deel van sy BackaBuddy-veldtog.
“Leon is iemand vir wie ek ongelooflik baie respek het. Hy is ’n nederige man en as gevolg van iemand soos hy, het ek vandag ’n musiekloopbaan. Daarom het ek gevoel dis niks minder as reg om te probeer help waar ek kan nie,” deel Boyce. “Sy medies dek nie sy kankerbehandeling nie, daarom probeer ons fondse insamel sodat hy die nodige behandeling kan bekostig.”
’n Musiekvideo van die lied, waarin Francois, Neville D, Die Lekker Crew en Leon te sien is, is nou ook op die kassie en YouTube te sien. Dit is by Digital Forest se ateljee aan die voet van Groot Constantia-wynplaas verfilm deur JahK van Heerden van TheFullFrameFox.
Volgens Francois was die hooffokus van die video die woorde en wou hulle dit eenvoudig hou, sonder tierlantyntjies, en ’n klomp mense wat vir God sê “U is asemrowend”. Om die hart van die liedjie te behou, het hulle Leon ook ingesluit in die beeldmateriaal.
“Die boodskap wat ons wou weergee, is dat God asemrowend bly ten spyte van jou omstandighede. Nêrens in die Bybel staan daar die pad van die lewe gaan maklik wees nie, maar daar staan wel – dit is moontlik saam met die Here. Met hierdie lied wil ons graag mense bemoedig. Kies om God te aanbid ten spyte van jou omstandighede, want deur dit te doen, kry jy krag, moed en bemoediging om op te staan en weer te probeer.”
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=-iV51-nmlCw
As jy graag fondse wil bydra om te help met Leon Ferreira se behandeling, kan jy ’n skenking deur BackaBuddy maak hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/support-leon-ferreiras-fight-against-aggressive-c of jy kan ’n elektroniese betaling doen:
Rekeninghouer: Kyla Miche van den Bergh
Rekeningtipe: Current Account
Bank: Discovery Bank
Takkode: 679000
Rekeningnommer: 12774983744
Francois Boyce, wat gedurende die covid-19-pandemie gewildheid verwerf het vir die sosialemediaplatform, Hoezit Samelewing, het oor die afgelope paar jaar diep spore in die vermaakbedryf getrap.
Buiten vir sy musiekloopbaan en werk as radio-omroeper, is hy ook ’n eggenoot en pa en ’n handelsmerkambassadeur vir verskeie produkte soos Tapputi Egyptian Perfume Oil, Purple Carrot, Fastweb en Outside the Bowl.
Verder is hy ook ’n motiveringspreker, stemkunstenaar, kindervermaakkunstenaar, klavieronderwyser en besit hy sy eie reeks produkte op Hoezit Samelewing se webwerf.
Tans toer hy ook die land plat met sy vertonings 5 Vrouens en ek; Ek, ’n Tent en Oorlog en Stap in styl. Hy is ook besig om te skryf aan ’n splinternuwe produksie getiteld, 5 Koeke & ek.
Met sy nuutste enkelsnit hoop hy nie net om ’n verskil te maak in Leon Ferreira se lewe nie, maar ook in die lewens van elkeen wat daarna luister.
Dit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://orcd.co/asemrowend
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/hoezitsamelewing
Instagram: @hoezitsamelewing
Webwerf: https://www.hoezitsamelewing.co.za/
YouTube: https://www.youtube.com/channel/UC8ePppnGMSLRzRWiCu4RHMA
TikTok: https://www.tiktok.com/@hoezitsamelewing?lang=en
ARTICLE SPONSORED BY
Rock Solid Music: Online Instrument and Equipment Store
Turning dreams into reality!