Eden brandweerspan blus vure op Valentynsdag

Terwyl meeste inwoners in die Eden distrik Valentysdag gevier het, moes Eden Distriksmunisipaliteit (Eden DM) se Brand-en Reddingspersoneel ‘n veldbrand in die berge naby Heimersrivier in bedwang bring.

20160214_155811_002

Die vuur is Saterdag, 13 Februarie 2015, om 16:00 naby ‘n treinspoor opgemerk.  Volgens mnr. Gerhard Otto, Bestuurder Nooddienste, kon die vuur nie dadelik per voet bereik word nie en moes ‘n Huey-helikopter ontbied word. Gelukkig het Eden DM sedert die begin van 2016 ‘n lugsteun brandstasie in Denneoord, wat hul in staat stel om vure in en om George vinnig te bereik.

Mnr. Clive Africa, Bestuurder: Gemeenskapsdienste, Eden DM, het ook gistermiddag Heimersrivier toe gekom om sy span te help
Mnr. Clive Africa, Bestuurder: Gemeenskapsdienste, Eden DM, het ook gistermiddag Heimersrivier toe gekom om sy span te help

Die Brandweerspan was tot laat besig en kon nie die vuur verhoed om verder te versprei teen die laaste lig van Saterdag nie, maar die vuur was onder beheer. Dit was vroeg oggend reeds duidelik dat die Oostelike flank ‘n gevaar vir nabygeleë plase en werkers se huise inhou. ‘n Tweede helikopter is vanaf Swellendam ontbied en moes 14 ure saam met die plaaslike helikopter werk  voordat hulle teen laaste lig op Sondag moes onttrek. Eden personeel is bygestaan deur 17 Werk met Vuur lede vanaf Riversdal. Hulle het deur die nag opruimingswerk gedoen en teen Maandagoggend 10:00 is alle oop vlamme geblus. Die spanne was aangenaam verras toe die Uitvoerende Bestuurder van Gemeenskapsdienste, mnr. Clive Africa, Sondagmiddag by hulle aangesluit het; voorwaar ‘n toonbeeld van toewyding.

Een van die Huey-helikopters besig om die vuur met water te bestook
Een van die Huey-helikopters besig om die vuur met water te bestook

Eden personeel en Werk met Vuur spanne vanaf George en Witfontein, sal voortgaan met opruimingswerk vir die volgende 24 uur voordat die brand as geblus verklaar kan word.

Ongeveer 500 Hektaar plantegroei is verwoes sedert Saterdag in die Heimersrivier-area
Ongeveer 500 Hektaar plantegroei is verwoes sedert Saterdag in die Heimersrivier-area

Tot op hede is daar ongeveer 500 Hektaar plantegroei verwoes, waarvan meestal fynbos is. Die lugsteuning wat verskaf is, beloop reeds meer as R450 000. Mnr. Otto het genoem dat hy dankbaar is dat niemand beseer is of enige infrastruktuur beskadig is nie.

Vir meer inligting, skakel:

Clive Africa – Uitvoerende Bestuurder: Gemeenskapsdienste, E-pos: clive@edendm.co.za of kontak:  044-803 1524 / 083 253 3928

Gerhard Otto – Bestuurder: Nooddienste, E-pos: gotto@edendm.co.za of kontak:  044-803 1435/ 083 630 2602

Share Button

About southcapenet

Adding value to my domain hosting and online advertising services.
View all posts by southcapenet →